Heartprints
Pastoral and Christian Counsellor
Art Life Coach
Ecometrist
25/09/2026
"Ek voel oorweldig!"😵💫
Weet jy hoeveel keer sê ek dié woorde myself, in dieselfde week dat my kliënte dit vir my sê? Want kom ons wees eerlik: die lewe is genadeloos. Ek het letterlik alles tot my beskikking om my lewe eenvoudiger te maak en te beplan - glo my, my iPad is my beste vriend - maar tog voel dit soms of ek agter myself aandraai.
Soms kom die skuldgevoel by:
🍀 ek kon meer doen
🍀 ek kon kalmer opgetree het
🍀 ek moes my admin lankal op datum gekry het
🍀 ek moes lankal begin het
en deesdae veral...
🍀 ek post te min op sosiale media.
Maar soms sit ek regtig vas tussen... wat post ek? Wat bêre ek vir later om te probeer verwerk?
Onlangs moes ek 'n moeilike besluit neem, om oor my eie ervarings te skryf. En die vrae het gestorm: Gaan dit kliënte aanmoedig... of hulle afsit? Hou jy die "probleme agter die masker” of staan jy in jou waarheid? Ek't gewonder - miskien moet die wêreld net die version kry wat lyk of alles in plek is. Maar my kliënte leer my een ding baie vinnig: hulle vertrou my nie as my lewe te perfek lyk nie. Vertroue kom deur egtheid - as jy nie weet hoe dit voel om te sukkel nie, kan jy nie help nie.
'n Voorbeeld wat ek gereeld in sessies gebruik om "ek voel oorweldig" te verduidelik: stel jou voor elke mens is 'n ander soort houer - 'n wynglas, 'n beker, 'n teelepeltjie. "Vol" beteken iets anders vir elkeen. Jy kan nie die teelepeltjie kwalik neem omdat hy oorloop terwyl die beker nog plek het nie. Dit werk maar dieselfde met mense. Elkeen dra hul probleme na aanleiding van die grootte van hul houer. Elkeen van ons dra 'n verskillende lading - en soms is 'n teelepeltjie-genade al wat jou deur die dag dra.
My kapasiteit is nie oneindig nie. Soms loop ek oor. En my eie lewe help my onthou, dit leer my om sagter na ander te luister.Ek't lank geglo ek moet my eie stories wegsteek. Maar onlangs het ek besef: die persoon wat voor my sit met trane wat dreig, soek nie 'n raadgewer met 'n foutlose lewe nie. Hul soek 'n mens wat weet hoe dit voel om snags wakker te lê met 'n hart wat swaar klop.
Ek het vir myself belowe: op hierdie bladsy wys ek nie net die blinkkant nie. Om oorweldig te voel, is deel van my storie - en dalk presies die deel wat jou help asemhaal.
Hoe lyk jóú glas vandag - byna vol, of het dit al oorgeloop?
Jou storie mag dalk iemand anders se asemhaling wees. Vertel my hieronder 👇
13/09/2026
ek gaan deur my fotos om 'n paar te kies vir die rame wat ek geverf het,
toe kom ek op hierdie een af
agt jaar gelede...
'n gelukkige dag!
'n ek loop die Camino dag!
'n ek is teen 'n berg uit dag!
daar sal weer só 'n dag kom
ek sal weer die Camino loop
en ek sal sorg dat ek elke oomblik
indrink
en ek sal wyd lag
en my hande
hoog
in
die lug
opgooi
09/09/2026
'n Ma se verdriet...
My kleindogter het verlede week Graad 1 begin. Sy is in 'n nuwe land, 'n nuwe skool, met 'n nuwe taal. Die klein kleuterbussie is nou vervang deur 'n gemengde skoolbus met kinders van alle ouderdomme.
Die eerste drie dae was opwindend, maar ek het geweet dat hierdie week nie so maklik gaan wees nie. Maandag was daar bietjie trane en "Can I stay with ouma for one day?" - maar gister kry ek die boodskap:
"Today was worse than yesterday; had to physically place her in the bus and leave. She actually came off the bus and refused to go on."
Toe my dogter hierdie boodskap stuur, breek my hart in stukke.
Die verdriet van 'n ma.
Later stuur ek vir haar 'n boodskap:
"You were brave today. It is difficult but you made the right choice to leave. She will find her rhythm, just give it some time. This is the first time that you feel your arms are too short to protect your child."
Dit is 'n ma se stille verdriet.
My eie gedagtes het natuurlik teruggegaan na my eie lewe. Ek het onthou dat altwee my kinders in Graad 8 vir die eerste keer gesukkel het om skool toe te gaan. Gerhard het koshuis toe gegaan en ons het hom in die kattebak uitgesmokkel (direk Wimpy toe!) as die trane vlak was. Charlotte het geweier om uit te klim by die skool en die hele dag onder my lessenaar by die werk gelê. Ons moes deurdruk en aangaan terwyl my hart gebrand het van jammerte.
Ek skryf verder vir haar:
"You are teaching her to find her own strength. This process will help her to find her own identity. Your pain, tears and courage will teach your daughter to be brave. I am so proud of you, but my arms are too short to comfort you today."
'n Ma se verdriet.
Ek weet dat jy ook soms voel asof jou hart wil breek. Dit kan wees oor jou kind, jou volwasse kind, jou hondekind, jou vriendin, of jouself.
"These are the times I speak to God. Not pray, but speak. He can reach where our arms are too short."
Ek weet ook dat dit nie altyd pleisters op 'n seer hart plak nie.
Jy het altyd 'n plek op die Heartprints-bank. Kom deel jou verdriet met my. 💛
05/09/2026
ek loop en d**k vandag
dis asof ek myself van vêr af sien
ouer
stiller
en ordentlik plat op die aarde
ek het tyd gemors, d**k ek
en dít op nonsens
maar dit is goed so
ek sien die wêreld nou heeltemal anders
en ek waardeer die mense
wat my liefhet
dít beteken ek is
vry
04/09/2026
Goeie besluite kan ook toksies raak.
Mens kom dikwels te staan voor keuses, of geleenthede. Die bang en hoop trek tou om te help om die finale besluit te neem.
Ek praat nie vandag oor slegte besluite nie. Ek wil fokus op goeie besluite - die beste keuse wat jy kon maak, op die oomblik, met die inligting wat aan jou bekend was.
Daar is ’n fantastiese werksaanbod. ’n Geleentheid om in Italië te stap. ’n Nuwe vriend om te leer ken. ’n Kerk wat uitreikwerk doen. ’n Kursus wat jy kan bywoon. ’n Man of vrou waarmee jy wil trou...
Eers bekyk jy die geleentheid vanaf ’n afstand. Dan onthou jy al die kere wat jy verkeerde besluite geneem het – en tree jy drie tree terug. Maar dan kyk jy weer. Die ding raak al hoe mooier. Jy begin uitsien.
Op ’n goeie dag neem jy die besluit.
Jy aanvaar die werk. Jy raak betrokke. Jy raak verloof en trou. Jy is gelukkig. Die wêreld lyk kleurvol en positief.
Dan, so mettertyd, begin die prentjie skeef trek. Die werksplek het daardie een boelie-baas wat almal regop laat sit. Die kerk wend nie die geld aan soos wat jy geglo het hulle doen nie. Die een wat jy liefhet begin drink op naweke, of spandeer meer tyd met die foon as met jou.
Jy is ewe skielik meer eensaam as wat jy was voordat jy hierdie geleenthede aangeneem het.
Dan begin die self-twyfel: Miskien is ek jaloers op my kollega. Dalk is ek die party-pooper. Almal by die kerk lyk so gelukkig en gemotiveerd... wat is fout met my?
Jy begin jouself bietjie aanpas. Jy raak selfkrities. Op ’n goeie dag voel jy donker, en dit is moeilik om positief te bly.
Jy baklei met die Here: "Ek het so hard gebid vir hierdie werk, hierdie persoon – hoekom voel iets dan nou verkeerd?"
Jy onthou: Mens gee nie net op nie. Jy werk bietjie harder. Miskien sal die baas sien dat jy jou KPI’s oortref. Die kerk bestaan al vir jare – miskien weet jy nie presies wat hulle alles agter die skerms doen nie. Dit kan nie wees dat hierdie persoon wat ek so bitter liefhet, pornografie verkies nie...
Almal vertel jou: "Jy het die jackpot geslaan."
Dis hier waar die besef posvat:
Goeie besluite – die beste keuse wat jy op daardie oomblik kon maak – kan ook toksies raak. Jy kon nie die skadukante sien toe jy die besluite moes neem nie. Nou sien jy die groter prentjie, en dinge maak nie sin nie.
Jy het dalk ’n fout gemaak.
Wat doen jy nou?
As jy vandag in ’n ruimte is waar besluite jou meer vrae as antwoorde gee, of as die donker gevoel te swaar begin voel – jy hoef nie alleen te wees nie.
Heartprints is daar om na jou te luister, sonder oordeel. Stuur ’n boodskap, maak ’n afspraak, of kom praat net. Saam kan ons die pad vorentoe vind. 💙
28/08/2026
Ek word ouer, ek is nou 'n rolbos. 🌿 🌿 🌿
Ek het onlangs eers behoorlik ged**k oor hoe 'n rolbos eintlik werk - en dit het my diep geraak. Dis nie 'n dooie, nuttelose bos wat net deur die wind rondgegooi word nie. Dis iets met 'n laaste, belangrike doel.
En ek besef dit is eintlik die storie van my lewe ook.
Eers was daar die groei.
Die jare wat ek gebou het, vertak het, moedig gebly het. Ek het my wortels gegrawe en my plek gevind. Ek het geleef en volwasse geraak.
Dan kom die droogtetyd.
Die dinge wat nie meer nodig is nie, val weg. Die geveg om te bewys, die behoefte om relevant te bly - dit word bros en los. En dis oukei.
Dis die natuur.
Dan kom die losbreek.
Ek is besig om die laaste dinge wat my nog vashou, stadig los te laat. En dit maak my nie meer so bang soos vroeër nie.
En dan kom die rondwaai.
Die lewe en omstandighede het my stelselmatig gevorm - deur die wind wat my gebuig en gedraai het - dat ek nou 'n mooi ronde vorm het.
Sag en vol.
En ek besef: dis nou my tyd om te rol.
Om doelbewus deur die wêreld te beweeg en my saad uit te skiet
🌿 die wysheid wat ek geleer het
🌿 die sagte oor wat kan luister
🌿 die hand wat kan help
🌿 die hart wat kan liefhê
Ek word nie meer vasgehou deur my eie behoeftes nie. Ek kan nou gee, so ver as wat die wind my dra.
Totdat ek tot rus kom. Uitmekaar. Stilte. Vry.
Ek d**k dis 'n mooi manier om oud te word. Ek word nie minder nie - net 'n ander soort meer. ❤️
As jy my pad kruis, moenie verras wees as ek iets vir jou agterlaat nie. Dis mos wat rolbosse doen. 🌬️
🌿 🌿 🌿 🌿 🌿 🌿 🌿 🌿 🌿 🌿
Gesels gerus met my as jou lewe nie sin maak op die oomblik nie.
Kom ons kyk of jy dalk in een van hierdie fases is.
As jy weet wat met jou gebeur, as die gesukkel ‘n doel dien kan jy jou kop oplig.
24/08/2026
Die gewone mens.
Daar was 'n tyd toe "aanvaarbaar wees" beteken het: doen dit, doen dát - sodat jou ouers trots is, jou skoonfamilie tevrede is, jou beste vriendin kan knik, en die sosiale kring kan sê ja, sy's oukei. Ek ken daardie tyd. Ons almal ken dit.
Dan kom die moeite. Jy werk harder. Jy jaag die perfekte lyf - minste plooitjies, gesondste hare, tande wat skitter. Alles moet perfek wees, anders kan jy nie op Instagram post nie. En as jy regtig eerlik is: alles lyk tog net bietjie beter as dit slegs in twee- of drie kleurskakerings is.
Maar dan kom die diepste steek. Die een wat niemand vir jou sê nie: jy moet jouself verloor. Jy moet conform. Jy moet jou lewe buig en pas sodat jy kan inpas.
En êrens in daardie buig en pas, vergeet jy wie jy was.
🌿🌿🌿🌿🌿🌿🌿🌿
Ek wil jou vertel van my gewone lewe.
Ek hou van bont lappe en los rokke. Ek was 'n gewone ma - mal oor my kinders, maar soms het ek gewens ek kon hulle teruggedruk het na waar hulle vandaan gekom het. Ek het 'n gewone werksgeskiedenis. Ek leef 'n gewone lewe.
Ek koop soms 'n interessante boek en lees dit 'n jaar later. Ek het 'n paar projekte begin en hoop om dit te voltooi voordat ek dood neerslaan. Soms eet ek Lays chips en noem dit 'n ete.
Ek is gelukkig.
🌿🌿🌿🌿🌿🌿🌿🌿
Ek wonder of ons nie in hierdie mal gejaag weer kan terugkeer na gewoon nie.
Daar sit mammas voor my met ernstige anxiety, en stres het hul beste maat geword. Ek werk met besigheids-eienaars wat die kers aan albei kante brand. Onderwysers wat nie kan asemhaal nie. Kompeterende tieners wat voel hulle brand uit.
En ek d**k: wanneer laas het iemand vir hulle gesê - jy mag net gewoon wees?
Gewoon is nie 'n mislukking nie. Gewoon is nie minder nie. Gewoon is die plek waar jy weer kan asemhaal.
🌿🌿🌿🌿🌿🌿🌿🌿
So ek vra jou vandag: Kan jy onthou wanneer laas jy net gewoon was? Net jy, sonder die filters, sonder die regmaak, sonder die inpas? Of het jy ook, iewers langs die pad, verander sodat jy kon inpas en vergeet wie jy eintlik was?
As jy vandag een ding kon aflê - net één ding wat jy dra sodat ander kan goedkeuring gee - wat sou dit wees?
Vertel my in die kommentaar. Ek lees elke een. 🤍
20/08/2026
Mens moet iemand hê wat vir jou wag.
Ek onthou die dae wat ek soos 'n mal mens gery het om my kinders by hul bestemmings te kry.
Ek het twee lewens gehad. Toe die kinders klein was het ek hulle self grootgemaak. Deur elke fase saam met hulle gegroei - judo, ballet, voortrekkers, ninjitsu, koor, biblioteek en terug.
Natuurlik het ek self ook 'n lewe gehad; van die huis af gewerk voor dit 'n ding was. Tennis gespeel, facials en naels en gekookte kos gereed gehad vir aandete. As die kinders buite gespeel het, het ek Oros en koekies aangedra, naaldwerk gedoen met my dogtertjie op my skoot. Klein handjies op mamma s'n.
Die tweede lewe was heeltemal anders. Ek het voltyds gewerk, die tieners ingeskryf by Affies en toé het die manoeuvring begin.
Donker opstaan, tieners rondry - seuns- en meisies koor op verskillende tye. Ninjitsu, naweek-werk, partytjies en so het dit gesorg dat sewe jaar weggevlieg het.
Toe kom die stilte.
Albei jong mense vat die pad. Universiteit toe, begin werk, woon op hul eie en toe twee troues.
Aanvanklik was dit wonderlik. Ek het opgehou jaag, bietjie later werk toe gery en baie tyd vir myself gehad.
Nou - na 17 jaar is ek weer in 'n ander fase.
Vandat Charlotte te siek is om self te ry gaan haal ek haar drie keer 'n week by dialise. Soms wag sy vir my, maar meeste van die tyd wag ek vir haar. Wat 'n onbeskryflike voorreg om haar weer te kan rondry.
Dan is daar 'n baie spesiale klein dogtertjie wat een maal 'n jaar vir ouma wag. Ek wag ook vir haar facetime oproepe en boodskappies.
Soms wag my sussie vir my om by haar garage in te ry, of, ek wag vir haar.
Ek weet nie in watter hoofstuk jy is nie.
🌱 Dalk in die mal fase van jaag en jy vat nie grond nie.
🌱 Dalk waar jy voel jy kry nie meer asem nie.
🌱 Dalk is daardie oulike babas nou tieners.
🌱 Dalk kry jy die spulletjie nie ge'launch' nie.
🌱 Dalk is jy nou in die stilste tyd van jou lewe en jy voel alleen en 'onnodig'
🌱 Dalk bly jy oorsee en nou voel jy skuldig want jou ouers raak oud.
🌱 Dalk bid jy vir iets nuuts, of hoe om met jouself saam te leef.
🌱 Wel, dalk hou jy nie eers baie van jouself of jou skoonma, of ma, of kinders nie.
Dis okay. Dis 'n fase.
Ek wag vir jou.
Jy kan op die Heartprints bank kom sit en al jou gal braak.
Daar is altyd 'n uitweg. Dalk wag jou binne-mens al jare vir JOU!
Aanlyn afsprake is beskikbaar terwyl hierdie ouma bietjie gaan speel by daardie dogtertjie daar in die verte.
ps. My skoondogter wag ook vir my... MIL moet Boere groenboontjies en soet patats vir haar maak.
17/08/2026
1980. Wimbledon. Die les wat bly. 🎾
Ek onthou die Sondagmiddag, my pa op sy stoel, coke in 'n bierglas en sy geel pakkie 'Rembrand van Rijn' si*****te.
Ek is op die bank onder die groen kombers en ons altwee staar na die Sony Boks TV.
Bjorn Borg en John McEnroe het teen mekaar te staan gekom, in die eindstryd.
McEnroe het rakette gegooi, teen die grond stukkend geslaan, met sy emosies geveg soos ’n bondel vuur.
Borg? Kalm. Gefokus.
"Mens moet ’n Big Match Temperament hê," het my pa gesê terwyl hy die rook stadig uitblaas.
Toe ek vraend na hom kyk, verduidelik hy...
"Jy moet altyd na die groter prentjie kyk, waar wil jy uitkom? ... wie wil jy wees?...
Dan vat jy die slegte oomblikke en d**k 'n plan uit om verby dit te kom sodat jy by jou einddoel kan uitkom."
McEnroe het dit nie gehad nie - dis hoekom hy verloor het.
Ek onthou daardie woorde gereeld as frustrasie, irritasie of moedeloosheid my pad kruis.
Dit gaan nie oor die onmiddelike bal of situasie nie.
Dit gaan oor die groter visie – die Big Match Temperament – sodat jy aan die einde kan sê:
"Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, ek het die geloof behou." 2 Timoteus 4:7 ❤️
Ek weet die lewe is moeilik vandag. Ek lees ook van die moeilike situasies waardeur gesinne stoei op facebook groepe.
Die raad word goed bedoel..."run"..."ek sien rooi vlae 🚩"... "los hom"..."sny hulle uit jou lewe"
Maar, ek nooi jou.
Kom sit hier by my. Kom ons vind jou "Big Match Temperament"
Click here to claim your Sponsored Listing.
Telephone
Address
582 John Scott Street, Constantia Park
Pretoria
Opening Hours
| Monday | 09:00 - 16:00 |
| Tuesday | 09:00 - 16:00 |
| Wednesday | 09:00 - 18:00 |
| Thursday | 09:00 - 16:00 |
| Friday | 10:00 - 16:00 |
| Saturday | 11:00 - 15:00 |