Spontaan
Tussen roosgoud en luiperd, tussen stilte en stem,
leef Spontaan™ waar geloof, genade en egtheid asemhaal.
Spontaan™ bied damesoggende, inspirerende boodskappe
en hands-on lipstiffie-werkswinkels
waar kreatiwiteit, identiteit en gemeenskap ontmoet.
05/10/2026
OKTOBER — DAG 5
Toe vrees jou besluite begin neem
“Toe het ek bevrees geword, omdat ek naak is; en ek het my verberg.”
Genesis 3:10
Gedagte vir die dag
Vrees sê nie altyd: “Ek is bang.”
Soms klink dit soos:
“Ek gaan eerder nie.”
“Ek sal wag.”
“Ek wil net seker wees.”
“Dis seker nie vir my bedoel nie.”
“Ek moet net eers alles onder beheer kry.”
En daarom kan ’n mens vir jare deur vrees beheer word sonder om jouself ‘n bang mens te noem.
In Genesis 3 hoor Adam God se stem in die tuin.
Maar Adam kom nie nader nie. Hy kruip weg.
En wanneer God hom roep, sê hy: “Ek het bevrees geword…” en toe volg daar ’n aksie: “…en ek het my verberg.” Dis wat vrees doen.
Dit skuif jou weg. Nie altyd dramaties nie.
Soms net stadig. Weg van eerlikheid.
Weg van gehoorsaamheid.
Weg van mense.
Weg van lig.
Weg van die plek waar God jou roep.
En dit is die gevaar van vrees: Dit voel dikwels soos beskerming, maar dit kan jou begin leer om weg te kruip van dit wat jou eintlik vry sou maak.
Jy sê nie wat gesê moet word nie, want dalk word jy verwerp.
Jy probeer nie, want dalk misluk jy.
Jy gehoorsaam nie, want dalk kos dit jou meer as wat jy gereed is om te verloor.
Jy beheer alles, want dalk val iets uitmekaar as jy beheer verloor.
Jy bly stil, want dalk word die waarheid ongemaklik.
Jy hou afstand, want dalk kom iemand te naby aan wat jy probeer wegsteek.
En later kyk jy terug en besef: Ek het gedink ek neem versigtige besluite. Maar eintlik het vrees my besluite geneem.
Ons praat baie daarvan dat ons God vertrou. Maar vertroue word eers sigbaar wanneer vrees en gehoorsaamheid jou in twee verskillende rigtings trek.
Want geloof beteken nie jy voel nooit bang nie.
Dit beteken vrees kry nie die finale stem nie.
Daar is dalk iets wat God reeds lank voor jou neergesit het.
’n Gesprek.
’n Stap.
’n Belydenis.
’n Grens.
’n Oorgawe.
’n Roeping.
’n Waarheid wat jy moet ophou vermy.
Maar jy wag steeds vir die dag wanneer jy nie meer bang sal wees nie. Miskien kom daardie dag nie
voor jy beweeg nie.
Miskien is die volgende stap: bang, maar gehoorsaam.
Want niks wat God van jou vra,word minder gehoorsaamheid net omdat jy bang voel nie.
En niks wat vrees vir jou belowe, is werd om jou weg te hou van die plek waar God jou roep nie.
Adam het weggekruip toe hy God se stem hoor. Maar vandag kan jy anders reageer.
Jy kan ophou wegskuif.
Jy kan ophou wegkruip.
Jy kan sê: “Here, ek is bang. Maar ek kom nader.”
Vraag vir vandag
Waar noem ek dit versigtigheid, terwyl vrees my eintlik laat wegkruip van gehoorsaamheid?
Gebed
Here, wys my waar vrees ongemerk die reg gekry het om my besluite te neem. Wys my waar ek wegkruip, uitstel, beheer of stilbly omdat ek bang is vir wat gehoorsaamheid my kan kos. Gee my onderskeiding om te weet wanneer U my roep om te wag, en wanneer ek bloot bang is om te beweeg. Ek wil U meer vertrou as wat ek my vrees vertrou. Al bewe my hand, help my om nader te kom en gehoorsaam te wees.
In Jesus Naam.
Amen.
✍🏻©️ Spontaan ™️👑
Spontaan WhatsApp Channel:
https://whatsapp.com/channel/0029VbCp8k21t90WlbdZIm2g
04/10/2026
OKTOBER — DAG 4
Toe bitterheid begin reg voel
“Pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.”
Hebreërs 12:15
Gedagte vir die dag
Bitterheid begin selde met: “Ek wil bitter wees.”
Dit begin gewoonlik met: “Wat hulle gedoen het, was verkeerd.”
En dalk was dit.
Jy is verraai.
Teleurgestel.
Onregverdig behandel.
Iemand het iets gebreek waarvan jy die gevolge moes dra.
Iemand het weggegaan en jy moes agterbly met die skade.
Iemand het gesondig, en jy moes leer asemhaal
tussen die stukkende dele.
Kom ons sê dit reguit: Vergifnis beteken nie jy noem verkeerd nou reg nie.
Dit beteken nie jy maak lig van wat jou gebreek het nie.
Dit beteken nie daar moet nie grense, gevolge of afstand wees nie.
Maar Hebreërs waarsku oor iets wat maklik ongemerk groei: ’n wortel.
Nie net ’n gevoel nie.
Nie net ’n herinnering nie.
’n Wortel.
Iets wat onder die oppervlak leef.
Iets wat voeding kry.
Iets wat later opskiet en vrug begin dra.
Want die gevaar is nie net wat met jou gebeur het nie.
Die gevaar is wat daardie gebeurtenis toegelaat word
om in jou te word.
Met tyd begin bitterheid soos beskerming voel.
Jy noem dit onderskeiding. Maar eintlik verwag jy net dat almal jou weer gaan seermaak.
Jy noem dit sterk wees. Maar eintlik het jou hart hard geword.
Jy noem dit “ek onthou net.” Maar eintlik herkou jy die wond tot dit weer mag oor jou kry.
Jy voer argumente wat nooit plaasvind nie.
Jy antwoord mense in jou kop wat lankal nie meer in die vertrek is nie.
Jy voel amper geregverdig wanneer iets met hulle verkeerd loop.
Jy kan nie hulle naam hoor sonder dat iets binne jou verander nie.
En stadigaan dra jy nie meer net die wond nie.
Die wond begin jou dra.
Dis hoekom bitterheid gevaarlik is.
Hebreërs sê dit besoedel baie.
Dit bly nie net tussen jou en die persoon wat jou seergemaak het nie.
Dit lek.
In jou huwelik.
In jou kinders.
In nuwe vriendskappe.
In hoe jy mense vertrou.
In hoe jy liefde ontvang.
In hoe jy reageer wanneer iemand onskuldig iets sê
wat aan ou pyn raak.
Iemand wat jou jare gelede seergemaak het, kan so steeds invloed hê oor mense wat hulle nog nooit ontmoet het nie.
Dit is hoe bitterheid steel.
Nie net by jou verlede nie.
By jou hede.
By jou mense.
By jou sagtheid.
By jou vermoë om weer skoon te sien.
En daarom is vergifnis nie God wat die skuldige goedkoop laat wegkom nie.
Vergifnis is God wat jou hart uit die tronk haal waar iemand anders se sonde jou aanhou bewaak het.
Vergifnis sê nie: “Dit was aanvaarbaar.” nie.
Dit sê: “Ek gaan nie meer hierdie skuld in my binneste invorder nie.”
Daar kan steeds grense wees.
Daar kan steeds gevolge wees.
Versoening is nie altyd moontlik nie.
Versoening is ook nie altyd wys nie.
Maar bitterheid is nie dieselfde as ’n grens nie.
’n Grens beskerm. Bitterheid vergiftig.
’n Grens kan uit wysheid kom. Bitterheid groei uit ’n wond wat begin glo het dit het die reg om jou hele hart oor te neem.
En miskien kan jy dit nie vandag uit jou eie hart uitruk nie. Maar jy kan dit na God toe bring.
Jy kan sê: “Here, ek wil nie meer hê hierdie persoon se sonde moet deur my bitterheid aanhou bepaal wie ek word nie.”
God kan ’n hart sag maak sonder om die waarheid oor wat gebeur het sag te maak.
Hy kan jou vry maak sonder om voor te gee dat dit nie seergemaak het nie.
Vraag vir vandag
Wie se optrede leef nog in my voort
deur die bitterheid wat ek teenoor hulle dra?
Gebed
Here, U weet presies wat gebeur het. U vra nie dat ek onreg moet ontken of sonde moet verskoon nie. Maar ek wil nie toelaat dat iemand anders se sonde wortel skiet en vrug dra in my lewe nie. Wys my waar bitterheid soos beskerming begin voel het. Help my om die skuld aan U oor te gee, sonder om wysheid en grense te verloor. Leer my om te vergewe waar ek nog vasklou, en genees die deel van my wat bang is om sag te word. Ek wil vry wees van wat gebeur het nie daardeur gevorm bly nie. Ek spreek dit/hulle vry nie omdat dit reg was of is nie maar omdat ek wil vry wees. Herinner my aan vergifnis, wanneer die vyand my aan die seer wil herinner.
In Jesus Naam.
Amen.
✍🏻©️ Spontaan ™️👑
Spontaan WhatsApp Channel:
https://whatsapp.com/channel/0029VbCp8k21t90WlbdZIm2g
03/10/2026
My hart loop regtig oor van dankbaarheid. 🥹
Om te sien hoe julle Spontaan Skoonheid gebruik, geniet, weer bestel en vir my terugvoer stuur, beteken vir my ongelooflik baie.
Hierdie reeks het begin met ’n eenvoudige hart: om produkte te maak wat versorg, voed en herstel sonder dat selfversorging ingewikkeld of onbekostigbaar hoef te voel.
Droë lippe.
Hande wat elke dag werk.
Naels wat herstel nodig het.
Voete wat jou deur soveel dra.
Nie alles wat sorg nodig het, moet weggesteek word nie. Party goed moet net met aandag versorg word.
En om nou te sien hoe julle dit deel van julle eie roetines maak… ek is opreg dankbaar!
Hierdie week is produksieweek, so ons werk hard om weer voorraad aan te vul en almal se bestellings so vinnig moontlik uit te kry. 🙌🏻
Dankie vir elke bestelling, elke boodskap, elke foto en elke keer wat julle vir iemand anders van Spontaan Skoonheid vertel.
Versorg wat aandag nodig het.
Voed wat droog geword het.
Herstel eers.
🐆 Spontaan Skoonheid
Heilig. Mooi. Wild. Sag.
Volledige reeks, pryse en bestellings:
📞 082 522 4563
🔗 https://wa.me/c/27825224563
03/10/2026
LEER ONS NOG ONS KINDERS DAT REINHEID KOSBAAR IS?
“My seun, bewaar my woorde en lê my gebooie by jou weg.”
Spreuke 7:1
Spreuke 7 begin nie by die vrou nie.
Dit begin by ’n ouer wat met ’n kind praat.
“My seun…”
Voor die straat.
Voor die versoeking.
Voor die verkeerde aanraking.
Voor die boodskap.
Voor die foto.
Voor die begeerte.
Voor die keuse.
Kom daar ’n gesprek.
En miskien is dit waar ons as ouers moet wakker word.
Want as ons nie met ons kinders oor seksualiteit, begeerte, reinheid en grense praat nie, gaan iemand anders. Die wêreld is nie stil daaroor nie. Hulle skerms is nie stil daaroor nie. Musiek is nie stil daaroor nie. Sosiale media is nie stil daaroor nie. Vriende gaan nie stil daaroor wees nie.
En pornografie gaan beslis nie wag totdat ons voel ons kinders is “oud genoeg” vir die gesprek nie.
Tog raak ons soms stil. Nie omdat die onderwerp
nie belangrik is nie, maar omdat dit vir ons ongemaklik is.
En intussen word ons kinders deur ander stemme geleer wat ’n liggaam werd is, wat begeerte beteken, wat liefde behoort te wees en wat hulle daarmee moet doen.
Ons waarsku dogters: “Pasop vir seuns.”
Ons waarsku seuns: “Moenie ’n meisie swanger maak nie.”
Maar, Here help ons daar is soveel meer wat hulle moet weet.
Ons dogters moet weet: Jou liggaam is nie jou betaalmiddel vir liefde of aandag nie.
Jy hoef nie begeer te word om waardevol te wees nie.
Jy hoef nie ’n foto te stuur om iemand te laat bly nie.
Jy hoef nie jou grense te verskuif omdat jy bang is iemand verloor belangstelling nie.
Jy hoef nie jou seksualiteit te gebruik om mag te voel nie.
En ’n man se aandag is nie bewys van jou waarde nie.
Maar ons seuns moet net so duidelik hoor:
Haar liggaam gee jou nie toestemming nie.
Nie haar klere nie.
Nie haar foto’s nie.
Nie haar flirt nie.
Nie omdat sy jou reeds gesoen het nie.
Nie omdat julle uitgaan nie.
Nie omdat jy dink sy “wil eintlik” nie.
Nie omdat almal rondom jou sê dit is normaal nie.
Toestemming word gegee. Dit word nie afgelei nie.
En selfs dan moet ons ons kinders iets leer wat die wêreld al hoe minder verstaan: Toestemming alleen maak iets nie heilig nie. Iets kan wederkerig wees en steeds buite God se bedoeling wees.
Ons moet ophou om vir seuns te sê: “Boys will be boys.” asof wellus ’n identiteit is waaroor hulle geen beheer het nie.
En ons moet ophou om vir dogters die gewig van mans se reinheid te gee, asof hulle verantwoordelik is
vir elke gedagte wat ’n man oor hulle dink.
Nee.
Ons dogters moet verantwoordelikheid leer
vir hulle keuses.
Ons seuns moet verantwoordelikheid leer
vir hulle keuses.
God roep albei tot heiligheid.
“Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van onsedelikheid.” 1 Tessalonisense 4:3
En ons moet dit reg sê: Seksualiteit is nie vuil nie.
God het man en vrou geskep.
Hy het die huwelik geskep.
Hy het seksuele intimiteit nie ontwerp as iets goedkoop wat niks beteken nie.
Dit hoort binne die veiligheid en trou van die huweliksverbond.
Nie omdat seks vuil is nie. Juis omdat dit kosbaar is.
Ons moet daarom versigtig wees dat ons nie só bang raak om ons kinders skaam te laat voel dat ons ophou om duidelik te wees nie.
Die Bybelse boodskap is nie: “Wag totdat jy oud genoeg is.”
Dit is ook nie: “Wag totdat julle regtig lief is vir mekaar.”
En ook nie: “Solank julle albei toestemming gee,
is dit reg.”
God se standaard word nie bepaal deur hoe sterk die gevoel is, hoe lank julle uitgaan, hoe ernstig die verhouding is of hoeveel die kultuur verander het nie.
Seksuele intimiteit is bedoel vir die huweliksverbond.
“Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.”
Genesis 2:24
En daarom wil ek hê my dogters moet weet:
Jou reinheid is kosbaar.
Jy hoef dit nie weg te gee om modern te wees nie.
Om volwasse te wees nie.
Om geliefd te wees nie.
Om begeerlik te wees nie.
Om iemand te laat bly nie.
Maar ek wil net so graag hê my seun moet weet:
Jou reinheid is ook kosbaar.
Reinheid is nie ’n meisiesgesprek terwyl seuns net geleer word om “versigtig” te wees nie.
Nee.
Seun, jy hoef nie te vat net omdat iemand bereid is om te gee nie.
Jy hoef nie elke begeerte wat in jou liggaam wakker word te bevredig nie.
Jy hoef nie jou manlikheid te bewys deur seksuele ervaring nie.
En dogter, jy hoef nie jou vroulikheid te bewys deur begeer te word nie. Julle behoort albei aan God.
Daar is iets ongelooflik kosbaar aan ’n jongmens wat kan sê: “Ek begeer jou, maar ek gaan jou steeds eer.”
Want Bybelse reinheid beteken nie dat jy niks voel nie.
Dit beteken nie dat jy nooit aangetrokke raak nie.
Dit beteken nie dat hormone verdwyn omdat jy Jesus liefhet nie.
Dit beteken: Selfs my begeertes kom onder die heerskappy van Christus.
Jy kan iets voel sonder om dit te volg.
Jy kan iemand begeer sonder om hulle te gebruik.
Jy kan verlief wees sonder om elke grens te verskuif.
Jy kan nee sê terwyl jou liggaam ja wil sê.
Dit is selfbeheersing.
Nie die afwesigheid van begeerte nie.
Die vermoë om nie deur begeerte regeer te word nie.
En wanneer die wêreld vir ons kinders sê: “As julle lief is vir mekaar, wat maak dit saak?” moet daar reeds waarheid binne hulle wees wat antwoord: Liefde vra nie net:“Wat wil ek hê?” nie. Liefde vra: “Wat eer God en hoe eer ek jou?”
Ons leer hulle dus nie om vir seks bang te wees nie.
Ons leer hulle om dit hoog genoeg te ag om daarvoor te wag.
En dan is daar iets waaroor ons ook moet praat: Pornografie. Nie eers wanneer ons ontdek ons kind kyk daarna nie.
Voor die tyd.
Want pornografie kan ’n kind oor seks begin vorm voordat hulle die emosionele, geestelike en verhoudingsgewig daarvan verstaan. Dit leer ’n mens maklik om na ’n liggaam te kyk sonder om die volle mens raak te sien.
Begeerte sonder verbond.
Intimiteit sonder werklike kwesbaarheid.
Seks sonder trou.
En as ons net die skerm wegvat maar nooit die hart leer nie, het ons toegang beperk.
Maar ons het nog nie wysheid gebou nie.
Daarom begin Spreuke 7: “Bewaar my woorde.”
Sit waarheid binne-in jou voor die verkeerde stem jou roep. Want daar gaan ’n dag kom wanneer mamma nie langs jou staan nie. Pappa gaan nie die telefoon vashou nie. Ons gaan nie elke gesprek hoor nie. Ons gaan nie elke verhouding sien nie. Ons gaan nie weet
wat agter elke toe deur gebeur nie.
En die doel van ouerskap kan daarom nie wees: “Ek moet seker maak my kind kry nooit die kans om verkeerd te kies nie.”
Ons beskerm hulle vandag. Maar ons vorm hulle
vir die dag wanneer hulle hulleself moet bestuur.
Ons maak nie kinders groot wat net gehoorsaam is wanneer ons kyk nie. Ons maak toekomstige volwassenes groot wat eendag alleen met ’n skerm,
alleen met iemand wat hulle begeer,
alleen met ’n geleentheid,
alleen met ’n keuse gaan staan en steeds weet waar die grens lê.
Want uiteindelik is reinheid nie: “Mamma sal my uitvang.”
Dit is: “God is hier. Ek weet wie ek is. Ek weet aan Wie ek behoort. En ek weet wat heilig is.”
Miskien beteken dit ons moet vroeër begin praat.
Nie een groot, verskriklike ongemaklike “seksgesprek” nie.
Baie klein gesprekke.
Oor liggame.
Oor waardigheid.
Oor toestemming.
Oor verlief wees.
Oor begeerte.
Oor reinheid.
Oor die huwelik.
Oor pornografie.
Oor naakfoto’s.
Oor grense.
Oor wat om te doen wanneer iemand druk op jou plaas.
Oor wat om te doen wanneer jy die een is wat meer wil hê.
Oor hoe ’n man ’n vrou behoort te behandel.
Oor hoe ’n vrou ’n man behoort te behandel.
Oor hoe hulle hulself en ander mense met waardigheid behandel.
Oor die soort liefde wat nie vra: “Hoeveel kan ek van jou kry?” nie, maar: “Hoe kan ek jou eer?”
Want eendag gaan ons kinders hulle eie strate loop.
Ons kan nie elke hoek vir hulle kies nie.
Ons kan nie elke versoeking voor hulle wegvat nie.
Ons kan nie vir altyd langs hulle staan en nee sê nie.
Maar ons kan vandag waarheid so diep in hulle plant dat wanneer die verkeerde stem eendag fluister: “Kom saam…” daar reeds waarheid binne hulle leef wat sê:
“Ek weet wie ek is. Ek weet aan Wie ek behoort. My liggaam behoort aan God. My reinheid is kosbaar. En ek weet wat heilig is.”
Maar selfs dít gaan nie net oor ons as ouers nie.
Want daar gaan plekke wees waar ons kinders gaan
waar ons nie saam kan gaan nie.
Oomblikke waarvan ons niks weet nie.
Keuses wat ons nie sien nie.
Versoekings waarvan hulle ons dalk nooit vertel nie.
En daar moet ons vertrou op Iemand groter as ons ouerskap.
Ons leer.
Ons waarsku.
Ons vorm.
Ons bid.
Maar ons kan nie die Heilige Gees se plek in ons kinders se lewens inneem nie. Daarom is ons gebed nie net: “Here, help ons om hulle reg te leer” nie.
Dit is ook: “Heilige Gees, wanneer ons stem nie daar is nie laat hulle U stem herken.”
Gebed
Here, gee ons wysheid om ons kinders nie uit vrees, skaamte of ongemak oor seksualiteit te leer nie, maar vanuit U waarheid. Help ons om nie moeilike gesprekke uit te stel omdat dit vir ons ongemaklik is nie. Gee ons die regte woorde vir elke ouderdom. Leer ons om dogters groot te maak wat weet dat hulle waarde nie in begeerlikheid lê nie, en seuns wat weet dat hulle manlikheid nie deur seksuele ervaring bewys word nie. Mag ons seuns en ons dogters verstaan dat hulle reinheid kosbaar is, dat hulle liggame aan U behoort en dat U hulle albei tot heiligheid en selfbeheersing roep. Bewaar hulle teen dit wat hulle harte te vroeg wil vorm. Maar Here, help ons om nie net mure rondom hulle te bou nie. Bou wysheid binne-in hulle. En Here, waar ons as ouers nie kan gaan nie gaan U. Wanneer ons nie langs hulle staan nie, wees U naby. Wanneer ons stem nie daar is nie, wees U die Stem wat hulle herken. Wanneer begeerte harder praat as wysheid, Heilige Gees, herinner hulle aan waarheid. Wanneer hulle verward is, lei hulle. Wanneer iemand druk op hulle plaas, gee hulle moed om nee te sê. Wanneer hulle die een is wat meer wil hê, gee hulle selfbeheersing om te stop. Wanneer hulle alleen met ’n skerm sit, wees daar. Wanneer hulle alleen met iemand staan wat hulle diep begeer, wees daar. Wanneer hulle voor ’n keuse staan waarvan mamma en pappa dalk nooit sal weet nie, Heilige Gees, praat. Bring U Woord terug na hulle gedagtes. Herinner hulle aan wie hulle is. Herinner hulle aan Wie hulle behoort. Waarsku hulle wanneer iets verkeerd is. Gee hulle ’n heilige ongemak wanneer hulle op ’n pad begin loop
wat hulle van U waarheid af wegtrek. En Here, as hulle ooit verkeerd kies, laat skaamte hulle nie van U af laat weghardloop nie. Trek hulle terug na U toe. Lei hulle na waarheid, belydenis, bekering, vergifnis en herstel. Want ons weet ons kan nie elke deur bewaak nie. Ons kan nie elke skerm sien nie. Ons kan nie elke gesprek hoor nie. Ons kan nie elke versoeking keer nie. En ons is ook nie hulle Verlosser nie. Jesus is. Ons taak is om te plant, te leer, te waarsku, voor te leef, te bid en lief te hê. Maar hulle harte behoort aan U. Daarom plaas ons hulle weer en weer in U hande. Leer hulle dat seksualiteit nie vuil is nie, maar kosbaar. Dat seksuele intimiteit binne die huweliksverbond hoort. Dat hulle eie liggame en ander mense se liggame met waardigheid behandel moet word. Dat reinheid nie iets is om oor skaam te wees nie. En dat selfbeheersing nie ’n straf is nie, maar deel van vryheid. En wanneer ons eendag nie meer langs hulle staan om hulle keuses te sien nie, Heilige Gees, staan U daar. Mag die waarheid wat ons vandag plant deur U lewend gehou word. Wanneer die wêreld hard praat, laat hulle U stem herken. En wanneer begeerte fluister: “Vat.” Wanneer druk sê: “Almal doen dit.” Wanneer die wêreld sê: “Dit maak nie saak nie.” laat U waarheid harder in hulle leef: “Jy behoort aan My.” En mag hulle dan self kan antwoord: Ek weet wie ek is. Ek weet aan Wie ek behoort. My liggaam behoort aan God. My reinheid is kosbaar. En ek weet wat heilig is.
In Jesus Naam.
Amen.
✍🏻©️ Spontaan™ 👑
Spontaan WhatsApp Channel:
🔗 https://whatsapp.com/channel/0029VbCp8k21t90WlbdZIm2g
03/10/2026
OKTOBER — DAG 3
Wat jy verdoof, verdwyn nie
“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.”
Matteus 11:28
Gedagte vir die dag
Daar is dinge wat ons doen om te rus. En dan is daar dinge wat ons doen om te ontsnap.
Die verskil is nie altyd in die ding self nie.
Dit lê dikwels in die rede waarvoor jy dit gebruik.
Kos kan voeding wees. Of verdowing.
Werk kan roeping wees. Of vlug.
Slaap kan herstel wees. Of wegkruip.
Sosiale media kan ontspanning wees. Of geraas om jou eie hart nie te hoor nie.
Selfs mense kan ’n gawe wees. Of ’n plek waarheen jy hardloop sodat jy nie alleen met jou pyn hoef te sit nie.
Die vraag is dus nie net: “Wat doen ek?” nie.
Die dieper vraag is: “Waarvoor gebruik ek dit?”
Want wanneer die lewe seermaak, soek ’n mens maklik iets wat die pyn net vir ’n rukkie stil maak.
Net ’n bietjie minder voel.
Net ’n bietjie minder dink.
Net ’n bietjie minder alleen wees met wat binne jou aangaan.
Maar wat jy verdoof, verdwyn nie.
Dit wag.
Wanneer die skerm afgaan,
die bottel leeg is,
die inkopies uitgepak is,
die mense weg is,
die werk klaar is,
en die geraas ophou,
is dit dikwels nog daar.
Die rou.
Die eensaamheid.
Die spanning.
Die skaamte.
Die vrees.
Die herinnering.
Die wond wat jy nie wil aanraak nie.
Verdowing belowe rus. Maar dit gee dikwels net uitstel. En uitstel lyk vir ’n rukkie soos verligting, totdat jy besef jy dra steeds dieselfde las, net dieper weggesteek.
Jesus maak ’n ander uitnodiging.
Hy sê nie: “Vind iets wat jou help vergeet” nie.
Hy sê: “Kom na My toe.”
Nie wanneer jy klaar sterk is nie.
Nie wanneer jy alles verstaan nie.
Nie wanneer jy jou patrone eers self gebreek het nie.
Kom.
Met die las.
Met die moegheid.
Met die gewoonte.
Met die ding wat jy gebruik het om nie meer te voel nie. Want Jesus bied nie net ’n manier om pyn stil te maak nie.
Hy bied rus vir die deel van jou wat moeg geword het
van wegvlug. En ja, soms loop genesing deur hulp.
Deur ’n dokter.
Deur berading.
Deur aanspreeklikheid.
Deur ’n eerlike gesprek.
Deur grense.
Deur ’n lang pad van herstel.
Maar moenie die middel met die Bron verwar nie.
God kan mense gebruik. Maar Hy bly die Een na wie jou siel moet terugkeer.
Die gevaar is nie net dat jy iets gebruik om pyn te verdoof nie.
Die gevaar is dat dit later jou toevlug word.
En wat jou toevlug word, begin jou vorm.
Vandag vra die lig nie net: “Wat maak seer?” nie.
Dit vra: “Waarheen hardloop ek wanneer ek nie wil voel wat seermaak nie?”
Want wat jy verdoof, verdwyn nie.
Maar wat jy na Jesus bring, kan begin genees.
Vraag vir vandag
Waarheen hardloop ek eerste wanneer my binneste te hard begin praat?
Gebed
Here, wys my waar ek verdowing met rus verwar het. Wys my wat ek probeer stilmaak, waarvoor ek vlug, en waar ek ander dinge my toevlug gemaak het in plaas van U. Gee my die moed om nie net te ontsnap nie, maar om na U toe te kom met die las soos dit is. Wys my ook waar ek hulp nodig het, en gee my die nederigheid om dit te ontvang. Wees my eerste toevlug, Here, nie my laaste opsie nie.
In Jesus Naam.
Amen.
✍🏻©️ Spontaan ™️👑
Spontaan WhatsApp Channel:
https://whatsapp.com/channel/0029VbCp8k21t90WlbdZIm2g
02/10/2026
JOU HUWELIK IS HEILIGE GROND
“Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die huweliksbed onbesmet.”
Hebreërs 13:4
Ek dink ons het die huwelik soms so alledaags gemaak dat ons vergeet het hoe ernstig God daaroor is.
Ons praat van trou as ’n mooi dag.
’n Wit rok.
Ringe.
Foto’s.
Beloftes.
’n Huis.
Kinders.
’n Lewe saam.
Maar lank voordat die huwelik ’n industrie geword het, was dit God se idee. Genesis 2 vertel van ’n man wat sy vader en moeder verlaat, sy vrou aankleef en saam met haar een vlees word. Jesus haal juis hierdie woorde aan en sê: “Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.”
Matteus 19:6
Dit is sterk taal.
Want die huwelik is nie bloot ’n kontrak tussen twee mense wat geldig bly solank albei gelukkig is nie.
Dit is ’n verbond.
En Efesiërs 5 neem dit selfs verder. Paulus gebruik die huwelik as ’n beeld wanneer hy oor Christus en die gemeente praat.
Dink net hoe kosbaar dit die huwelik maak.
Hoe ernstig. Hoe heilig.
Daarom behoort ons nie verbaas te wees dat vernietiging graag probeer werk waar daar eenheid, trou, liefde en verbond is nie. Die Skrif waarsku ons teen ’n vyand wat verslind, teen leuens, versoeking en teen die ruimte wat sondige woede kan gee.
Maar ons moet ook versigtig wees om nie elke huweliksprobleem op die duiwel te blameer nie.
Partykeer was dit ons.
Ons trots.
Ons tong.
Ons geheimhouding.
Ons selfsug.
Ons onvergewensgesindheid.
Ons gebrek aan selfbeheersing.
Ons onwilligheid om jammer te sê.
Ons jare lange verwaarlosing van iets wat ons gedink het vanself sal bly staan.
Die vyand hoef nie altyd ’n skeur te maak nie. Soms moet hy net gebruik wat ons weier om reg te maak.
Daarom moet ons wakker wees. Nie bang nie. Nie agter elke argument ’n demoon soek nie.
Wakker.
Want jou huwelik is kosbaar. En kosbare dinge word versorg. Kosbare dinge word beskerm. Kosbare dinge word nie roekeloos hanteer omdat jy aanvaar hulle sal môre nog daar wees nie.
Spreuke 5 sê: “Drink water uit jou eie reënbak en strome uit jou eie put.” Spreuke 5:15
En later: “Laat jou fontein geseënd wees, en verheug jou oor die vrou van jou jeug.” Spreuke 5:18
Ek hou van daardie woord: Verheug.
Nie net: Bly getroud. Verdra mekaar. Betaal die rekeninge. Maak die kinders groot. Hou die huis aan die gang.
Nee. Verheug jou.
Geniet die mens wat jy gekies het.
Lag weer.
Flirt weer.
Raak aan.
Gaan sit langs mekaar.
Vra hoe dit rêrig gaan en luister lank genoeg om die antwoord te hoor. Onthou waarvan julle gehou het voordat elke gesprek oor kinders, geld, werk, skool en logistiek gegaan het.
Kyk weer.
Want daar is ’n vreemde ding wat soms in ’n huwelik gebeur. Ons gee ons beste vir almal buite die huis.
By die werk is ons geduldig.
Met vriende lag ons.
Vir vreemdelinge is ons beleefd.
Ons antwoord mooi.
Ons luister.
Ons maak moeite.
En dan kom ons by die huis en die mens wat ons belowe het om lief te hê, kry wat oor is.
Die moegheid. Die kort humeur. Die halwe gesprek terwyl ons na ’n skerm kyk.
Die:“Nie nou nie.”
“Later.”
“Ek is moeg.”
“Wat wil jy nou hê?”
Jou huweliksmaat behoort nie die oorblyfsels te kry van ’n weergawe van jou wat die hele wêreld reeds uitgeput het nie. Dit beteken nie jou huis moet ’n verhoog wees waar jy altyd vrolik en perfek moet wees nie. Juis by die huis behoort jy veilig genoeg te wees om moeg, hartseer en kwesbaar te wees. Maar veiligheid mag nooit ’n verskoning word vir verwaarlosing nie. Of vir disrespek nie. En veral nie vir wreedheid nie. Want daar is iets wat ek wens meer mense vroeg in ’n huwelik geleer het:
MOENIE VUIL BAKLEI NIE.
Daar gaan konflik wees. Jy gaan kwaad word. Julle gaan mekaar verkeerd verstaan. Daar gaan gesprekke wees waarin jy absoluut oortuig is dat jy reg is.
Maar jou huwelik is nie ’n bokskryt nie. En jou huweliksmaat is nie jou opponent nie. Moenie die swakhede wat iemand in veiligheid met jou gedeel het later as ammunisie gebruik nie. Sy swakheid is nie jou wapen nie. Haar onsekerheid is nie jou comeback nie. Daardie ding wat jou maat een aand met trane vir jou vertel het, behoort nie drie maande later tydens ’n argument teruggegooi te word omdat jy presies weet waar dit gaan tref nie. Vertroue gee jou toegang tot iemand se sagte plekke. Liefde besluit om dit nie as teikens te gebruik nie.
Moenie baklei om seer te maak nie.
Moenie verneder nie.
Moenie spot nie.
Moenie iemand se liggaam, familie, verlede, inkomste, swakhede of onsekerhede gebruik omdat jy weet dit gaan sny nie.
Moenie met egskeiding dreig net om mag in ’n argument te kry nie.
Moenie stilte as straf gebruik omdat jy wil hê die ander persoon moet ly nie.
Moenie probeer om die beste comeback te hê nie.
Want ’n huwelik is nie ’n wedstryd om te kyk wie die laaste woord kry nie.
As jy die argument “wen” en die mens voor jou stukkend laat, wat presies het jy gewen?
Dink aan ’n bord wat breek.
Jy kan hom plak.
Herstel is moontlik.
Vergifnis is moontlik.
Genade is werklik.
Maar breek dieselfde plek oor en oor.
Plak. Breek.
Plak. Breek.
Elke keer is meer gom nodig en die bord word al broser. Ons kan nie doelbewus aanhou breek en dan dink ’n vinnige “jammer” maak elke kraak betekenisloos nie. Woorde het gevolge.
“Dood en lewe is in die mag van die tong.”
Spreuke 18:21
Party sinne neem vyf sekondes om te sê en baie langer om uit iemand se binneste te kry. “Ek was net kwaad” maak dit nie ongesê nie.
Daarom: Konfronteer die probleem sonder om die persoon te vernietig. En dalk verander die manier waarop ons baklei wanneer ons weer onthou wie voor ons staan.
Nie net: “My man.” “My vrou.” Maar iemand wat deur God geskep is. Iemand wat vir Hom kosbaar is. As jou huweliksmaat aan Christus behoort, is dit jou broer of suster in Christus en jou man of vrou.
Iemand met ’n hart.
Met vrese.
Met swak plekke.
Met wonde waarvan jy dalk meer weet as enige ander mens. Met drome wat jy gehoor het omdat hulle jou genoeg vertrou het om dit met jou te deel.
Wat ’n voorreg om iemand SO te ken. En wat ’n verantwoordelikheid om daardie kennis met liefde te hanteer. Ons behoort dalk meer gereeld te bid: “Here, help my om na my huweliksmaat te kyk soos U wil hê ek moet kyk.” Want wanneer ek net deur frustrasie kyk, sien ek alles wat verkeerd is.
Wanneer ek net deur seerkry kyk, wil ek myself verdedig.
Wanneer ek deur trots kyk, wil ek wen.
Maar wanneer ek onthou dat die mens voor my ook kosbaar is voor God, verander selfs my konfrontasie.
Dit beteken nie jy word ’n deurmat nie.
Dit beteken nie jy bly stil oor sonde nie.
Dit beteken nie jy verdra mishandeling, bedrog, verslawing of vernietigende gedrag omdat jy jou huwelik moet “eer” nie.
Goddelike liefde maak waarheid nie stil nie. Dit verander die manier waarop waarheid gepraat word.
Jy kan ferm wees sonder om wreed te wees.
Jy kan ’n grens trek sonder om iemand te verneder.
Jy kan sê: “Wat jy gedoen het, is verkeerd,” sonder om te sê: “Jy is waardeloos.”
Jy kan kwaad wees sonder om doelbewus skade te probeer doen.
Jy kan konfronteer sonder om karakter te vermoor. En soms is die geestelik volwasse ding nie die briljante antwoord wat reeds op jou tong lê nie. Soms is dit om stil te bly totdat jy weer met waarheid EN liefde kan praat.
Nie omdat jy verloor het nie. Maar omdat jy besluit het:
Ek gaan nie iemand wat ek liefhet stukkend praat net sodat ek vir vyf minute kan voel ek het gewen nie.
En dan is daar die grense rondom julle huwelik. Want wat kosbaar is, beskerm jy ook teen verkeerde toegang. Nie elke mens behoort toegang te hê tot die mees intieme dele van julle verbond nie.
Nie elke vriendskap verdien onbeperkte toegang nie.
Nie elke boodskap hoef beantwoord te word nie.
Nie elke probleem in jou huwelik behoort eers met iemand buite jou huwelik bespreek te word terwyl jou maat niks daarvan weet nie.
Nie elke skerm is onskuldig nie.
Nie elke fantasie moet gevoer word nie.
Nie elke deur moet oop bly nie.
Daar is ’n plek binne ’n huwelik wat heilig beskerm behoort te word. Maar moenie net die mense buite jou huwelik uithou nie. Maak seker die mens binne jou huwelik voel nog welkom daar.
Dis waar ons soms die fout maak.
Ons beskerm die huwelik teen affairs, maar nie teen verwaarlosing nie.
Teen pornografie, maar nie teen bitterheid nie.
Teen derde persone, maar nie teen ons eie trots nie.
Teen verkeerde boodskappe, maar nie teen ’n tong wat elke week afbreek nie.
Teen seksuele ontrouheid, maar nie teen emosionele afwesigheid nie.
Jou huwelik het beskerming nodig teen dit wat van buite wil inkom. En teen dit wat van binne af stadig besig is om dit uit te hol.
Moenie wag totdat iets breek voordat jy besef hoe kosbaar dit was nie.
Moenie wag totdat iemand anders jou maat raaksien voordat jy weer kyk nie.
Moenie wag vir ’n afgrond voordat jy die afstand aanspreek nie.
Moenie wag vir ’n krisis voordat jy begin bid vir die mens langs jou nie.
Moenie wag totdat julle amper niks oor het om te onthou dat julle eenmaal voor God gestaan en mekaar gekies het nie.
Beskerm wat kosbaar is.
Versorg wat aan jou toevertrou is.
Praat met respek.
Baklei skoon.
Trek grense.
Vra vergifnis.
Vergewe waar vergifnis moontlik en gepas is.
Lag.
Raak aan.
Bid.
Praat.
Luister.
En kies weer.
Want getrouheid beteken nie net dat jy niemand anders gekies het nie. Dit beteken ook dat jy nie opgehou het om die een wat jy gekies het, te kies nie.
Nie net op julle troudag nie. Vandag.
In die gewone.
In die moegheid.
In die konflik.
In die herstel.
In die jare wat julle verander.
Weer en weer: Ek het jou gekies. Ek kies jou vandag.
En met God se genade sal ek môre weer kies.
Gebed
Here, dankie vir die heiligheid van die huweliksverbond. Help my om nooit so gewoond te raak aan die mens langs my dat ek vergeet hoe kosbaar dit is om iemand se hart, vertroue en liefde so naby te mag dra nie. Ondersoek eers my. Wys my waar trots, woede, geheimhouding, bitterheid, verwaarlosing of my eie woorde skade begin doen het. Bewaar my daarvan om die sagte plekke wat my maat aan my toevertrou het ooit as wapens te gebruik. Sit ’n wag voor my mond wanneer ek kwaad is. Gee my wysheid om te weet wanneer om te praat, wanneer om stil te bly, wanneer om te konfronteer en wanneer om nederig jammer te sê. Here, help my om my huweliksmaat te sien soos U wil hê ek moet kyk. Laat ek onthou dat die mens voor my nie my opponent is nie, maar iemand wat deur U geskep is en vir U kosbaar is. Leer my om ferm te wees sonder wreedheid, eerlik sonder vernedering en liefdevol sonder om waarheid weg te steek. Beskerm ons huwelik teen verkeerde toegang, versoeking, geheime en alles wat verdeeldheid wil bring. Maar beskerm ons ook teen wat binne ons eie harte kan groei. Leer ons om nie ons beste aan die wêreld te gee en ons oorblyfsels vir mekaar te bring nie. Laat ons weer kyk. Weer luister. Weer lag. Weer aanraak. Weer bid. Weer kies. En waar daar reeds krake is, gee ons die moed om dit nie langer weg te steek nie, maar om waarheid, bekering, vergifnis, wysheid en die regte hulp toe te laat om daar te werk. Here, leer ons om hierdie verbond met eerbied te dra. En laat die mens aan wie ek eenmaal voor U gesê het: “Ek kies jou,” dit steeds in my woorde, my grense, my respek, my trou en my liefde kan voel: Ek kies jou nog.
In Jesus Naam.
Amen.
✍🏻©️ Spontaan™ 👑
Spontaan WhatsApp Channel:
🔗 https://whatsapp.com/channel/0029VbCp8k21t90WlbdZIm2g
Click here to claim your Sponsored Listing.
Contact the business
Telephone
Website
Address
Johannesburg
Alerts
Be the first to know and let us send you an email when Spontaan posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.